Trastevere

Trastevere

trans Tiberim (antieke Rome)
Rione XIII di Roma (stadsdeel)
Die fontein op die Piazza Santa Maria in Trastevere is 'n gewilde ontmoetplek vir Romeine en toeriste
Die fontein op die Piazza Santa Maria in Trastevere is 'n gewilde ontmoetplek vir Romeine en toeriste
Trastevere is in Italië
Trastevere
Trastevere
Koördinate: 41°53′14″N 12°27′56″O / 41.88722°N 12.46556°O / 41.88722; 12.46556
LandVlag van Italië Italië
Streek Latium
ProvinsieMetropolitane Stad Rome
Administratiewe distrik (Circoscrizione)Municipio Roma I
StigtingAntieke tydperk
Oppervlak
 • Totaal1,7116 km2 (0,6609 vk. myl)
Bevolking
 • Totaal19 229
 • Digtheid11 234/km2 (29 100/vk. myl)
TydsoneUTC+1 (MET)
 • SomertydUTC+2 (MEST)

Trastevere ([traˈsteːvere], afgelei van die Latynse trans Tiberim "oorkant die Tiber") is die XIIIde rione of stadsdeel van Rome wat administratief onder die Municipio I val. Geleë aan die Tiber se regteroewer en suid van die Vatikaanstad, strek die buurt vanaf die suidelike Tiberkronkel noordwaarts tot die Gianicolo-heuwel (Italiaans: Colle del Gianicolo; Latyn: Ianiculum), die hoogste in Rome. Na sy bewoners word in Italiaans as Trasteverini verwys.

Mosaïeke in die apsis van die kerk Santa Maria in Trastevere, die buurt se geestelike spilpunt en een van sy toeriste-trekpleisters. Vir 'n besonderse effek word die kunsvolle beligting aan- en uitgeskakel
'n Sarkofaag is in 1937 in Via Garibaldi omgeskep tot 'n fontein
Een van Trastevere se historiese nou straatjies
Festa de'Noantri in 1992. Prosessie met die standbeeld van die Madonna del Carmine

As trans Tiberim was Trastevere reeds in die regeringstydperk van keiser Augustus een van antieke Rome se veertien administratiewe stadsdele, moontlik al sedert die regeringstydperk van Rome se vierde koning Ancus Martius omring deur 'n stadsmuur. Al het bekende Romeinse persoonlikhede, onder wie Gaius Iulius Caesar, hier villa's vir hulself laat oprig, is die buurt tradisioneel bevolk deur vrygelate slawe (liberi), seelui, aanhangers van monoteïstiese oosterse kultusse soos Jode en vroeë Christene, vreemdelinge en immigrante, maar ook siekes en misdadigers. Die buurt is as deel van antieke Rome beskou, maar tradisioneel nie by die Urbs Roma gereken nie.

Die buurt se huidige karakter met nou straatjies en historiese woonhuise dateer uit die Middeleeue. Trastevere, wat nog tot in die 1950's 'n werkersklasbuurt was, word dikwels as een van die oorspronklikste en mees outentieke buurte in die Italiaanse hoofstad beskryf. Dit is in elk geval een van die spilpunte van Rome se naglewe, met talle restaurante, trattorie en pizzerie, en een van die gunstelingbuurte in Rome vir kunstenaars, skrywers en straatmusikante.


Developed by StudentB